vrijdag, augustus 14, 2009

Experienc! India

Vir iemand wat die eerste 52 jaar van sy lewe in Afrika gewoon het , was die ervaar van India onverwags- ek was voorbereid op die derde wereld, maar het rerig nie so’n variasie van die derde wereld verwag nie! Geen vooraf voorbereiding kan mens staal teen dit wat daar wag nie.
Die besoek is gereel deur die Rubi Hall kliniek in Pune- ek was deel van ’n groep van 6 ginekologiese chirurge wat aan ’n vooraf bespreking van sy vak en dan ’n dag gewei aan operasies wat hy moes lei voor ’n gehoor van ongeveer 200 Indiese kollegas. Pune is ’n stad wat anderkant ’n bergreeks van Mumbai is- om daar te kom vlieg mens na Mumbai en gaan dan met die (enigste in India blykbaar) expressway oor die berg na Pune. Dit is altans die teorie. In die praktyk is dit egter ’n heel ander verhaal, en dis die verhaal wat ek wil vertel.
Die vlug na Mumbai was eerste werelds en goed. Die aankoms in Mumbai was om tienuur die aand- die datum was 30 April, dus voorjaar hier, somer daar. Die uitstap uit die lughawe was die binnekoms van totale chaos. Mense , mense en nogmaals mense- orals waar jy kyk. Iewers in die bondel het my beloofde “driver” met ’n plakaat met “Nieuwoudt”- nogal reggespel –op gestaan. Met haas is ek in die taxi in gehelp, gelukkig soos dit later sal blyk op die voorste sitplek.
Die rit ( onthou dis 11 uur in die aand) deur Mumbai was ’n rit deur wat ons in Suid Afrika, plakkerskampe noem- die Nederlandse woord ontwyk my, maar ek dink nie hier in Europa is soortgelyke wonings nie. Die mense moet in skofte slaap op die plekke in die hutte waarin hulle slaap, want die strate was om middernag vol- selfs Koopavond in Terneuzen maal 5 kom nie nagenoeg aan hierdie hoeveelheid drukte nie! Na ’n uur se getoeter (agter op die vragmotors staan “please horn, thank you please”) van die driver het ons uit Mumbai se nagverkeer geneem op die 3 baan Express way- binne in ’n ander wereld van chaos.
Die baan keuse van die bestuurders bestaan nie- elk ry waar hy wil. Elk blaas sy auto se toeter om ’n weg te baan. En dit bult op en bult af vir 3 uur lank. Vragmotors staan in die middel van die weg- gewoonlik skuis- geparkeer- waarskynlik het dit gebreek- en die verkeer moet sy eie weg rondom dit vind, byna soos die water in ’n rivierstroom sy weg vind rondom rotse in die rivier. Ek het vooraf beplan om bietjie te slaap op die rit na Pune: die adrenalien in my are het my egter wakker gehou , daar op die voorste sitplek waar ek al klouend aan die deurknop van die deur gesit het. Elke wan en dan het die driver gestop, rondom die wit auto van onbekende bron en jaar, gestap en teen die wile geskop. Die bedoeling hiervan het ek liewers nie gevra nie.
Om 3 uur die ogend het ons by die hotel ge-arriveer: onvoorspelbaar in watter soort sosio-ekonomiese buurt dit was. Plakkerkampe buite, besige straat voor die deur en veiligheidswagte orals. Met die binnekoms in die hotel stap mens in die mees luksieuse omgewing waaraan jy kan dink- 5 sterre staan buite, maar waarskynlik sal 6 sterre meer akuraat wees. Koloniale rykdom straal van orals- gelukkig het ek, of ZorgSaam, nie hiervoor betaal nie, maar my gashere. Dit sal ook my veilige hawe wees vir die volgende 4 dae. My gasheer het my die volgende dag om 10 uur kom haal, ’n getoeter rondreis deur Pune se sentrum – en ook chaos- geneem. Die aand het ons met die ander hoofgaste Indies ge-eet in ’n eerste wereldse omgewing, met die derde wereld net die stoep af.
Die seminaar en chirurgiese workshop het goed afgeloop- die enigste was dat ek as “professor Nieuwoudt” aangespreek was. Dit het nie gehelp dat ek hulle daarop gedui het dat my ma dit graag sou wou hoor, maar ek is maar net ’n gewone arts uit Terneuzen- word nie altyd eers as dokter daar aangespreek nie- is. Het hulle toe maar laat begaan en die oomblik geniet. Ek en dr Farnsworth van Australia was die enigste buitelanders wat deel was van die “faculty” en ons is met groot seremonie ingesweer en het selfs kerse moes aansteek vir die Indiese gode wat die seminaar/workshop moes beskerm. Moet herken dit doen die ego goed om so in die sonnetjie gesit te word!
In die Rubi Hall kliniek en operasie kamers was dit interessant om op te let hoe die derde en eerste wereld hulself afgewissel het: die gebou was nuut, die aparaat so modern soos wat jy kan kry, maar die operasie tafels het egter nog uit die sestiger jare van die vorige eeu gekom- werk nog met slingers. Ook het almal “slip-ons” soos wat ons in SA strand toe gedra het aan as enigste voet tooisels in die operasie kamers. Uiteraard was die organisasie rondom die operasie ook nie altyd soos wat ek my mensies hier in De Honte geleer het nie- as jy ’n instrument vra kry jy ’n instrument, nou nie noodwendig wat jy gevra het nie, maar wel iets. Die verpleeg personeel is geweldig onderdanig, die gesags struktuur is geweldig en mens kom gou agter wie die baas is en wat hy vra gebeur- ook nou nie soos dit in De Honte altyd gaan nie!
Die rit oor die berg terug was die vorige nagmerrie in reverse- die slag in daglig en met vooraf beter sielkundige voorbereiding. So al skoppende aan die wiele, en selfs ’n plas stop teen ’n boomstam (van die driver- ek was te bang om uit te klim, netnou word ek agtergelaat) is ek midde in die laatmiddag verkeer van Mumbai om 4 uur die middag op die lughawe stoep afgelaai. Die driver was haastig terug voordat die verkeer te erg raak- indien dit ooit moontlik is! Die ondervinding en die tydsverdryf aksie wat ek moes doen – my vlug was eers om 3 uur die volgende ogend terug na Brussel- is ’n verhaal vir ’n later geleentheid.
In ’n kort 4 dae het ek India experience. Of ek weet of ek dit weer sal wil doen, weet ek nie, miskien wel. Wat ek egter dankbaar voor is, is dat ek Danette nie saam geneem het nie- sy sou nie weer terug oor daardie berg wou ry nie- anders was ek haar kwyt.

0 Opmerkings:

Een reactie posten

<< Home

Free Photo Albums from Bravenet.com Free Photo Albums from Bravenet.com